|
Parkieland is pret!
Dit is wat ons skool so
uniek en geliefd maak. Elke kind is vir ons belangrik
en spesiaal, en die personeel gaan uit hul pad om te
verseker dat elke kindjie geborge en geliefd voel. Die
Parkieland personeel werk as ‘n span saam om die sukses
van ons skool te verseker en beskik oor ‘n hoë
werksetiek en werkstrots.
Vandat Parkieland se deure
in 2001 geopen het, het God se seën op ons skool gerus
en beleef ons daagliks Sy genade vir elkeen wat deel
vorm van ons span!
Parkieland spog met vyf Gr.
R klasse en vyf voorbereidende klasse. Elke klas beskik
oor sy eie fantasie area en dis ook hier in die klasse
waar elke kind se potensiaal ontgin word deur kreatief
skeppend besig te wees. Stilsit word tot die minimum
beperk. Die kinders word daagliks gelei tot kreatiewe
denke deur middel van probleemoplossings. Die Gr. R
kinders ontvang ook weeklikse rekenaar klasse in die
skool se Rekenaarsentrum en neem ook deel aan die
Laerskool se Revue.
Ons buitespel area stimuleer
nie slegs grootspierontwikkeling nie, maar ook fantasie,
kreatiewe denke en sensopatiese stimulasie. Elke area
is so ontwerp om tot die maksimum benut te word. Die
Laerskool se rugbyveld word ook benut om
grootspierontwikkeling te bevorder.
Daar is noue samewerking met
die Laerskool se Junior-Primêre Departement om te
verseker dat ons
Gr. R kleuters se oorgang na
Gr. 1 so vlot as moontlik verloop en die kleuters se
skoolgereedheid tot ‘n baie hoë vlak ontwikkel word.
Parkieland beskik oor ‘n
baie betrokke ouergemeenskap wat deel in die gemoedelike
atmosfeer wat daar by die skool heers. Hulle neem ook
dikwels deel aan aktiwiteite wat van tyt tot tyd by die
skool plaasvind en ondersteun hul kinders ook op hierdie
manier.
Ons ouers vorm ‘n belangrike
vennootskap met die skool wat die kinders se
ontwikkeling voorop stel.
Parkieland is voorwaar pret!
|