Skool Inligting

Ons geskiedenis

Parkieland se deure word in 2001 geopen en is die droom van Ria Raath en die Beheerliggaam van Laerskool Menlopark. 

As eerste hoof vestig sy, en die eerste personeel, die skool om ‘n uitsoekkleuterskool in die Menlopark omgewing te word.

Juffrou Henriëtte Liebenberg was van die heel begin af by die skool as student betrokke, en toe as opgeleide Onderwyseres, en is nog steeds in die Kameelperdklas ‘n trotse Parkie na al hierdie jare.

In 2009 verhuis Ria saam met haar man en word Riekie van Eeden in 2010 aangestel as tweede hoof by Parkieland.  Saam met die voortreflike personeel word daar nog steeds elke dag gebou aan ons skool se naam en op die grondslag wat gelê is vir uitnemendheid.

In 2013 het die Gr. R-sentrum geopen en het Gr. R “afgestig” van Parkieland om ten volle deel te word van Laerskool Menlopark, vanweë die feit dat Gr. R-onderrig verpligtend geword het.

Parkieland het in 2013 begin om 2- tot 3-jariges in te neem en ons is trots om te kan sê dat ons sinvol hierdie kleintjies in ons skoolprogram geinkorporeer het. Michelle Talma sluit in 2025 by ons aan as Parkieland se nuwe hoof.

Ons spogskool sien uit daarna om in die toekoms nog vele kinders se hartsplek te word en die fondament te lê vir suksesvolle leer.

Dagprogram

Met informele aanbieding van die dagprogram ontwikkel die kleuter skoolgereedheid op die volgende gebiede:

Sosiaal:

Meer as genoeg maats om mee te speel

Groot-motories:

Hang, spring en klim word ons kinders lyfieslim

Fyn-motories:

Om kreatief-stimulerend vaardighede aan te leer

Taal:

Woordeskatontwikkeling staan voorop

Wiskundig:

So maklik soos 1, 2, 3, stappie vir stappie

Perseptueel:

Speel-speel leer ons met al ons sintuie

Kognitief:

‘n Stimulerende program vol pret

Emosioneel:

‘n Tweede tuiste weg van die huis af

Lewensvaardigheid:

Hoe om die wêreld te verstaan en toe te pas wat ons leer

Skoolfonds

Alle skoolgeld is vooruitbetaalbaar.

Die maandelikse paaiemente moet stiptelik voor die 7de van elke maand betaal word.

Die eerste betaling moet asb. reeds voor of op 7 Januarie gemaak word.

Daar kan ongelukkig nie uitstel vir betaling vir kleuters in Parkieland en Graad R verleen word nie.

Sodra ‘n rekening agterstallig raak, sal die volle uitstaande skoolgeld soos op datum van nie-betaling, onmiddellik betaalbaar word. Indien die betaling nie geskied nie, sal die volle uitstaande bedrag oorhandig word, waar die ouers aanspreeklik sal wees vir alle invorderingskoste, insluitende enige ander fooie.

U kan gevra word om u kleuter tuis te hou totdat die agterstallige skoolgeld op datum gebring is.

U kleuter is vir ons baie belangrik, maar u sal sekerlik begrip daarvoor hê dat ons nie gratis onderwys kan verskaf nie. U betaling is noodsaaklik vir die goeie bestuur en instandhouding van die skool en om te verseker dat ons kontantvloeisituasie gesond bly.

Skoolfonds

Registrasiegeld van R800 is vooruit betaalbaar met inskrywing en dit vorm nie deel van die jaarlikse skoolgeld nie. Die R800 word in Januarie elke jaar op die skoolgeldrekening gehef.

Halfdag - Opsie 1

11 maande
R 3 420
00
per maand
  • 1 Januarie tot 1 November
  • R37 620 per jaar

Halfdag - Opsie 2

12 maande
R 3 135
00
per maand
  • 1 Januarie tot 1 Desember
  • R37 620 per jaar

Voldag - Opsie 1

11 maande
R 5 279
00
per maand
  • 1 Januarie tot 1 November
  • R58 069 per jaar

Voldag - Opsie 1

12 maande
R 4 839
08
per maand
  • 1 Januarie tot 1 Desember
  • R58 069 per jaar

Klasgroepe

Ons Groepe

Ons 2- tot 3-jariges

Ons 2- tot 3-jariges is ons jongste maats in die skool.

Hulle weeklikse tema word oor ‘n twee-week tydperk behandel, sodat daar voldoende tyd is om taalontwikkeling, waaronder die belangrikste, woordeskatontwikkeling, as basis te vorm.

Hierdie klein lyfies kry genoegsame tyd om te klim, te spring, en die wêreld om hulle te ontdek.

Toilet onderrig vind plaas deur gekwalifiseerde onderwyspersoneel wat uit hul pad gaan om dit ‘n aangename ervaring te maak.

Ons klasjuffrouens en assistente berei ons klein maatjies optimaal voor vir die volgende jaar se slimword. Deur ‘n liefdevolle en deernisvolle benadering geniet ons 2- tot 3-jariges skool, en word Mamma se hande sterk gemaak in die grootmaakproses.

Gedurende slaaptyd daal ‘n rustige vrede oor al die maatjies voordat Mamma hulle kom afhaal, hetsy halfdag of voldag.

Ons naskooljuffrou, Juffrou Elrina, speel smiddae tog lekker met ons kleintjies en stimuleer hulle deur liedjies, rympies, en speletjies totdat hulle moeg gespeel die middag huis toe keer.

In ons 3- tot 4-jarige klassies word daar hard gewerk om elke kindjie se individualiteit na vore te bring. Ons bekwame en liefdevolle onderwyspersoneel en onderwysstudente rig en lei die kinders om, speel-speel, te ontdek en te groei.

Buitespel en vrye eksplorasie is belangrik om selfstandigheid en waakmoed te bou, asook om goeie verhoudings met maats te vestig. Daar word twee speeltye vir al ons groepe in die dagprogram ingebou, en ons maats floreer daarop.

Elke week is daar ‘n tema, en word ons maats bietjie meer uitgedaag om deel te neem aan ‘n propvol program, vol ontwikkelingsmoontlikhede, sonder om kindwees in te perk.

Dissipline word eerder deur beloning vir goeie gedrag gedryf as “straf”, maar sou dit nodig wees, word daar van die “time-out” metode gebruik gemaak. ‘n Vierjarige sal vier minute by juffrou deurbring en dan begelei word tot verantwoording en positiewe gedrag.

Die lewendige 3- tot 4-jariges word voorberei vir Gr. 00, sodat hulle met moed en durf kan deelneem aan al die lekker en uitdagende aktiwiteite in die nuwe jaar se nuwe klassies.

O, hierdie kinders se groei is heerlik om te aanskou! Van onseker kindertjies is daar nie sprake nie – hulle vorige jaar se juffrouens het hulle so mooi voorberei.

Skool is lekker, en hier leer en speel ons ewe hard,” is verseker dié groep se leuse. Dit is ‘n groot jaar, want Gr. R wink! Daar word hard gewerk aan kognitiewe vaardighede soos opdraguitvoering (BAIE BELANGRIK), konsentrasie en perseptuele vaardighede, maar ook persoonlike groei en ontwikkeling.

Kunstyd is ‘n wonderlike tyd om kreatief te wees en vrye denke te ontwikkel, en glo dit of nie – dit bevorder baie kognitiewe ontwikkeling.

Ja, die fynspiere kry genoegsame ontwikkeling, maar kunstyd is ook gekoppel aan Taal, Wiskunde, Persepsie, Lewensvaardigheid en sensoriese integrasie. Die eindproduk is nie die kern van kuns nie, maar wel die vaardighede wat aangeleer word deur hierdie stimulerende aktiwiteit.

Grootmotoriese aktiwiteite is belangrik, en watter kleuter gaan nou nee sê vir ‘n hele rugbyveld se vryheid?

Die boustene en liefde vir formele leer word hier reeds gebou deur die voorvaardighede te ontwikkel wat nodig is vir ‘n formele Laerskool-leerervaring.

Daar word hard gewerk aan selfstandigheid, selfbeeld, en om gelukkige kleuters na die Laerskool aan te stuur, want by ons Laerskool is Gr. R vol aangename avonture!